Sune Coetzee

Ek is Suné Coetzee,aangename kennis. Ek is vrou vir Lambrecht en mamma vir klein Amé. Terloops, ek looove hulle. Ek hou baie van koffie met vanillamelk, Kokkedoor en aangebrande kos. Dis waarom ek soms aspris ons kos aanbrand. Ek hou van ver stap en diep dink. Ek hou van origanum, Annelie Botes en songedroogde tamaties. Ek lag altyd vir Friends, al ken ek byna elke episode uit my kop. Ek het my ma vyf jaar gelede verloor en huil soms nog skemlpies in die badkamer oor haar. Ek is steeds swaarder as voor ek swanger was. (Ek het 20kg opgetel.) Ek sny brood en meelgoed uit. Dan drink ek saans voor die kaggel rooiwyn met Lindt sjokolade. Ek is nie goed met streng eetprogramme nie!

Dis my storie. Opgesom. Ek's Mamma. As ek by breekpunt is gaan drink ek 'n Honey and Nut Latté by Woolworths. Alleen met 'n koerant. By Emsie geleer.

Hierdie blog is slegs vir mammas, en voornemende mammas. Julle sal verstaan. Mamma-wees is 'n reuse vreugde en voorreg. En soms wil jy alleen op die toilet gaan sit en 'n bietjie huil oor jou groot taak wat nooit ophou nie. Ons almal verstaan.

Op hierdie blog is my begeerte dat ons sal saamkuier. Dat ons deur gewone mammas geïnspireer sal word. Gewone mammas haal nooit die tydskrifte nie...en eintlik is ons sonderlinge, manjifieke, onselfsugtige mènse. Ons verdien eintlik 'n boek oor ons lewens! Ek gaan my buurvrouens en vriendinne, my susters en skoonsusters se stories vertel. As jy Afrikaans praat en ek loop jou raak, of ek het jou nommer of eposadres...gaan ek ook jou storie vertel.

Daar's magic in die wete - dit gaan oraait wees. Daar's mammas wat in dieselfde bootjie as jy is. Hierdie is alleen maar 'n seisoen. Kom ons koester en geniet dit!

Sunéxxx